.
Gerrit Rautenbach
Daar is niks so lekker soos om met ’n motorfiets op ’n grondpad te ry nie. Wel, amper. Dan moet jy ook net die regte motorfiets en die regte pad hê.
Die kleur van die pad en die kleur van die motorfiets speel ’n baie groot rol. As die pad te geel is, kan hy te veel sand op hê. As hy pas geskraap is, het hy nie ’n lekker lyn om te vat nie. As hy rooi is, moet jy pasop. ’n Rooi grondpad het sulke ronde klippers op. Koeëlrond en blinkglad. Hulle vat jou voorwiel net waarheen hulle wil. Ysskaats kan veiliger wees. ’n Pad met te veel sinkplaat op-op-op is ook-ook-ook n-ni-nie lekker nie.
Maar ’n kameelbruin pad sonder slaggate en groot klippers wat net effe uitgery is en met so ’n dun laag gruisklippies op is net die ding. Sy spore moet wys, maar die oppervlak moet egalig wees.
En die kleur van die motorfiets? Oranje en swart, natuurlik.
Dis Oujaarsdag en ek en Dave Venter het nou net daai kombinasie getref. Ons is van Aberdeen af op pad na Prins Albert deur die Groot Vlak. Oujaarsaand op Prins Albert. Ek hoop dis iets soos osbraai op Kromdraai. So 50?km van Aberdeen af het ons links afgedraai Rietbron toe. Daar’s so ’n lang slap draai na regs en voor ons sien ek hoekom dié deel van die Karoo die Groot Vlak genoem word: Ek sien die toekoms aankom oor die plat aarde. Met ’n oneindigende kameelbruin pad wat die rigting aandui.
Ek gee Dave so ’n paar oomblikke tyd sodat ek nie sy stof hoef te eet nie en draai oop. Die pad hou net aan en aan en aan, die nuwe jaar tegemoet. Hier teen 160km/h loer ek in my spieëltjie en kry ’n rilling. Die stofstreep agter my lyk soos Columbia wat in die Nevada kom land.
Houston, we don’t have a problem.
Die GPS het verklaar dit is presies 57km tot by Rietbron. Ons het die eerste 55 in 20 minute gekap, die pad loop steeds soos ’n liniaal, maar steeds geen Rietbron nie. Dié plekkies is ook so klein, ons is dalk al regdeur hom. Maar dan, in die middel van die pad, tussen Dave se stof deur, steek ’n puntjie uit. Rietbron se kerktoring.
Ek los die fiets se oor en trap die ratte so een-een af om teen 50 die magtige Rietbron in te proes. Dis Oujaarsdag in Rietbron en ek sien niemand nie. Voor my is die kerk wat statig staan en ons stof afweer. Weerskante van die kerk is twee sulke klein amperse hartbeeshuisies. Ek het later uitgevind dis van die tuishuise wat die boere in die ou dae gebruik het wanneer hulle dorp toe gekom het met die waens op Saterdae. Effe stadiger as wat ons hier ingeval het. Dan het hulle hul besigheid gedoen, in die tuishuise oorgeslaap en Sondag kerk toe gegaan. Twee maal. Eers ’n oggenddiens en dan ’n middagdiens, sodat hulle genoeg tyd kon hê om weer die plaas voor donker met die waens te haal.
Ons kruie tot in die skaduwee van die Algemene Handelshuis en hou stil. Met my helmet af hoor ek net die tik-tik van ons enjins se afkoel. Niks anders nie. Nie eens wind in die populier wat waghou oor die polisiekantoor oorkant die pad nie.
Ja, die dorp is verlate, maar nie heeltemal toe nie. Die handelshuis se deur staan oop en ons stap in. Binne vat dit so ’n tydjie vir my oë om aan die min lig gewoond te raak. Dis ’n groot plek dié. Die ou houtvloer het al baie voete gevat. Die bruin het swart geword en die blougeverfde kosyn is rondgetrap. Ek ruik ’n mengsel van brood, lampolie en suiker. Die toonbank loop in ’n L-vorm in lengte en breedte. Agter is rakke gestapel met Selati, Koo-boontjies, Texas-boelie, Lucky Star en A1-meel. Steeds sien ons g’n mens nie. Totdat so ’n korterige mannetjie met ’n flenterbaardjie by die pakkamer uitkom.
“A, ek het gedog ek hoor julle inbrul,” sê hy en kyk ons motorfietspakke op en af. “Niek is die naam,” groet hy met die hand.
“Hallo,” groet Dave terug. “Waar is al die mense?”
“Ek is hier,” lag Niek vir sy eie grappie. “Nee, dis mos Oujaar, hulle is weg. See toe. Familie toe. Plaas toe.”
Ons koop vir ons Coke en Niek begin vertel van Rietbron. Dat die kerk die enigste kerk is met ’n springbok op pleks van ’n haan. Nou nie ter verering van Mannetjies Roux of enige van daai snare nie, maar omdat die trekspringbokke uit die Kalahari blykbaar by Rietbron verby is. Dat die tennissaal baie aktief is. Om die waarheid te sê, sport tel punte in dié geweste. Al die boere het saamgestaan en ’n ordentlike rugbyveld gestoot, goeie gras geplant en gesorg vir besproeiing en bemesting. Nou speel Rietbron jaarliks gasheer vir ’n groot wedstryd tussen Grey Kollege en Paarl Boys High.
Terwyl hy vertel, haal ek oudergewoonte my pypgoed uit en begin stop. Dis wat vir my so lekker is van reis. Jy
kom op sulke lekker plekke af en luister na sulke lekker mense se trotse stories oor hul plek. Maar net toe my Zippo die pyp laat vat, stop vriendelike Niek in die middel van ’n woord. Hy kyk my vieserig aan.
“Asseblief, meneer, sal jy liewer buite loop rook? Om hier binne te rook, is teen die reëls.” En so sorg Niek dat sy enigste klante op Oujaarsdag die handelshuis verlaat.
Houston, we don’t have a problem, dink ek maar net en gaan rook verder buite. Dave bring die Coke saam en meen ons kan darem seker maar ’n ou knertsie maak. Die silwer bekers kom uit saam met die molassevoggies van Jamaika. Rustig en vredig gaan sit ons op die trappies en klink op Oujaar.
Dis net daar waar ons ’n tweede inwoner van Rietbron ontdek. Die konstabel moes van die polisiekantoor oorkant die pad gestap het en hy stop op die trappe langs ons.
“Middag Konstabel.”
“Middag en welkom in Rietbron,” groet hy vriendelik. “En dit?” wys hy na die silwer bekers.
“Coke,” sê Dave terwyl hy die kannetjie rum onder sy baadjie indruk. “Motorfietsry in dié hitte is ’n dorstige besigheid.”
“Ek hoop dis net Coke, ja. Want anders kan julle nie verder op die masjiene ry nie. Dis teen die reëls.”
“Net Coke. Met eish, ja?…”
Die konstabel lag en stap verder. “Mooi ry en voorspoedige nuwe jaar.”
Houston, we don’t have a problem.
Daar’s min dinge so lekker soos om te russtop as jy motorfiets ry. Behalwe wanneer jy klaar gerus het en jy begin jeuk om weer daai Columbia-stof agter jou te sien. Dan raak jy haastig.
Voordat ek my helmet opsit, besluit ek om net eers ’n draai te loop. Daar is niemand in die dorp nie en ek glip om die hoek van die handelshuis. Om jou ding te doen met ’n motorfietspak aan is nogal ’n gedoente. Die zippertjie is maar kort en om alles in die regte rigting te laat wys staan jy met jou agterent so agteruit.
Net toe ek laat looi, kom daar ’n sterk hand neer op my linkerskouer. Ek was oortuig die konstabel was nog in die handelshuis, maar hy het blykbaar deur die pakkamer aan die agterkant uitgeloop. Nou staan hy met sy hand op my skouer en ek staan met my meneer in my hand.
Houston, we have a problem.
“Meneer, kom asseblief saam.” En Oujaarsaand slaap ek toe in die Rietbron-polisiekantoor se enigste sel. Want sien, Rietbron het ook reëls.
Hierdie skrywe kom uit Rapport - Oorspronklike skrywe hier.
Intussen het ek en 'n paar makkers ook gaan kyk wat in Rietbron aangaan (nie veel nie...).
Reis verslag hier!
.
No comments:
Post a Comment