.
Saterdag oggend 27 Februarie is dit vroeg uit die vere. Ons het die vorige aand eers in George geland na 'n sake besoek in die bose ou stad, so tyd vir pak was maar min en tyd vir slaap was nog minder. Dit was afgespreek dat ons om 5:30 sou ontmoet by die bymekaarkom plek om stiptelik 6 uur te vertrek. Ons was nou wel nie eerste daar nie, maar ons was darem ook nie laaste nie.
Ons was baie opgewonde oor die trippie. My vrou (Vuurvlieggie) het letterlik die slapies getel na vandag toe. Ons was 'n lekker groep bymekaar, so tien mense, met nog twee wat reeds Vrydag gery het omdat hulle nie meer kon wag nie. In vandag se groep was "Dr.Dirt" op sy KTM990, "Gryph" op 'n Africa Twin, "Lemac" op 'n V-Strom, "Pad" (soos in grondpad, nooit teerpad nie ) op 'n
Dan was daar nog drie makkers in die ondersteunings voertuig - Luthando en sy mooier helfte en Jakkie.
(Foto deur Gryph)
Hulle ry agterna om te help stukke optel as ons afval. Nee, darem nie regtig nie. Vanaand se première is sowat 50km van waar ons gaan kamp opslaan. En hulle bedien wyn. Om dan daarna in die nag in die Karoo te moet terug ry kamp toe sou nie wys wees nie. Ons is verantwoordelike mense after all.
Kort voor lank toe vat ons die pad. Vars lug en die sonsopkoms op Outeniqua Pas. Hoe kan 'n dag nou beter begin as dit?
Die eerste grondpad tref ons aan by Swartberg pas en dit voel of die trip nou regtig begin.
Ek en Vuurvlieggie op pad na "Die Top":
(Foto deur Gryph)
"Die Top" is dan ook ons eerste stop. Met die afklim is die eerste onderwerp die koue. Die uitsigte is asemrowend maar die mis oor die Karoo verklap dat dit dalk 'n rukkie gaan neem voor ons opwarm.
Vuurvlieggie was al saam met my tot in Die Hel (dis nou die een in Gamkaskloof), maar sy het nog nie die res van Swartberg Pas gesien aan die Prins Albert kant nie. En dis die mooiste deel. Ek het lekker aan die kant van die pad gery dat sy mooi fotos kan neem:
Vuurvlieggie het hoogtevrees en sy het beweer dat ek te na aan die kant ry.
Miskien was sy reg...
Nog mooi uitsigte na die Prins Albert kant. Let op die ou murasie links van die pad onder. Dit is die ou tronk waar die gevangenis gehou is wat die pad moes bou.
Die pas soos mens terug kyk na bo:
Ek het ook so bietjie video materiaal geneem van Swartberg Pas. Dit gee 'n goeie idee van 'n motorfiets ryer se perspektief.
(Met Theuns Jordaan - Hy is soortvan die tema van die naweek)
Prins Albert en tyd vir ontbyt! Motorfiets trippe is sosiale aangeleenthede.
Volgende stop is in Leeu Gamka vir petrol. Vuurvlieggie en Ria raak so lekker aan die gesels dat sy besluit om in die Land Rover te ry tot ons weer die scenery vang later dieper die Karoo in. So nou kan ek die oor draai en bietjie speel. Maar daar is altyd tyd om te stop vir 'n foto!
Kyk net hoe nat is die Karoo. Hier het GROOT reëns geval in die dae voor ons hierheen gekom het.
Op Leeu Gamka wag en wag ons, maar die Landy daag nie op nie. Pap wiel. Dis 'n probleem. Luthando besluit om nie die rowwe paaie aan te durf sonder 'n spaarwiel nie en kies koers Beaufort Wes toe vir 'n nuwe band. Ons sal mekaar maar weer sien anderkant Loxton.
Ons bikes ry die Groot Karoo in en oral is tekens van die groot water wat hier verby is. En kort voor lank toe kry ons dit:
Water, modder, sand, klippe en slote. Heerlik! Hier moet ons deur!
Ek bied aan om eerste te ry. Sodoende kan ek die ander afneem soos hulle oorkom (en dalk val ).
Dinge lyk om een of ander rede nooit so erg op film as wat dit regtig was nie, maar glo my, om 'n groot swaar motorfiets hier oor te neem laat die adrenalien behoorlik pomp!
(Seker die dat ek so bewe toe ek hulle afneem )
Hierdie en ander video grepe uit vandag se rit, weer met Theuns Jordaan:
Maar wag - voor die video dinge te ver vooruitloop - Ons was nog laas in die rivierloop. Hierdie TransAlp se wiele staan vir niks verkeerd nie!
Hiervandaan het ons gereeld pad verspoelings gekry en dit was kophou, want hierdie Karoo Gravel Highways is lekker om te ry. Hier hoef jy gewoonlik nie aan te ploeter nie, jy kan jou ore plattrek en ry. Maar vandag is bietjie anders. Nes jy dink jy ry is dit skielik 'n sloot / sand / modder / klippe / water oor die pad. Dan gooi jy ankers uit dat dit klap! Mens weet net nooit hoe diep daai volgende sloot is nie. Met die versnel en briek, versnel en briek het ons heelwat stadiger gevorder as wat ons moes.
En so elke nou en dan moet daar gestop word ook. Gerrit Rautenbach het mos juis vertel motorfietsry is ’n dorstige besigheid.
Die roete ('n redelike ompad na Loxton van George af) is spesifiek so uitgewerk dat ek hier oor die Oudekloof pas kan kom ry. Nog een van my lysie af!
Karoo scenery - Fraserburg Distrik:
En uiteindelik Oukloof Pas:
Ek het bietjie navorsing probeer doen, maar dit lyk my daar is nie veel bekend van die pas nie. Ek wonder of die Theekloof Pas hom vervang het?
'n Pas in die Karoo is altyd 'n highlight, want meeste van die Karoo is maar plat!
(Foto deur Gryph)
(Foto deur Gryph)
Gryph het teen 'n heuwel op geklouter om hierdie mooi fotos te neem.
(Foto deur Gryph)
Ek aan die ander kant het maar fotos hier onder rond geneem
Die afdraai na Sakrivier Poort:
Mooi wêreld hierdie!
Sak rivier is lekker vol water. Dit is lekker om die deel van die sak rivier te sien, veral na daai inspirerende trippie wat Tok-tokkie al langs die sak rivier af gedoen het.
Dr.Dirt was gaaf genoeg om daai foto vir my te neem. So lyk dit as jy op die bike is:
Hierdie is ook deel van die Oewerkonyn Bewaar Area.
Die Oewerkonyn is een van die mees bedreigde soogdiere in die wêreld met sommige wat reken dat daar so min as 200 Oewerkonyne oor is. Hierdie nagdier kom slegs in 'n klein area in die Karoo voor, met Fraserburg, Sutherland en Victoria Wes wat klein populasies het.
Besoek gerus hulle webwerf by: http://www.riverinerabbit.co.za/
En toe, uiteindelik, Loxton! Ons gedink dat dit nou nie meer lank sal neem om by die kampplek uit te kom nie, maar min het ons geweet...
Dinge werk bietjie anders hier in Loxton. Die petrol stasie (die enigste een) is toe tot Maandag toe. En die hele dorp is natuurlik besig om op te tof vir die groot première vanaand, so hoe nou gemaak? Maar Karoo mense drop jou nie. Na 'n paar navrae is die nodige mense ontbied. Die arme vrou moes uit die bad uit om ons te kom help. Sout van die aarde mense hierdie. Niks is ooit te veel moeite nie.
'n Uur na ons Loxton ingery het, ry ons daar uit met vol tenks. Dis nog 40km na ons kampplek toe en dan weer 50km na die première toe. Tyd is min!
5 uur die middag, 11 ure na ons vertrek het, ry 6 moeë bikers Melton Wold se kampeer terrein binne en wat sien ons daar? Al ons tente is reeds vir ons opgeslaan! Dis nou service!
Glo my, daai sagte gras en koelte was baie welkom. Na 'n paar koues en stories vat ons weer die pad - bestemming: Jakhalsdans!
Heerlike kos, koue wyn en 'n fliek onder die sterre!
(Foto deur Gryph)
Wat 'n ervaring! Ek wil nie alles uit die film verklap nie, maar gaan kyk dit gerus as dit begin wys in April. Definitief die moeite werd. Dit was natuurlik nog meer treffend om die film te kyk waar hy afspeel.
Gaan loer so lank vir tyd en wyl op die Jakhalsdans webwerf waaroor dit gaan.
Wat 'n heerlike dag. Hoe bevoorreg is ons nie om so te kan rondry nie.
.
Trailrider
ReplyDeleteJou 'ride reports' is 'stunning'! Eerste klas!
Ek het so pas hierdie 'ride report' gelees, toe ek 'n epos kry dat Jakkalsdans die (afgelope) naweek hier in New Zealand gewys gaan word.
Ja-ja, ons woon wel aan die ander kant van die aardbol, maar ons is nog lank nie agter 'n klip nie. ;-)
Wat 'n ervaring om in 'n "Kine" vol Suid-Afrikaners 'n pragtige Afrikaanse film te kyk! Soos jy altyd se: 'priceless'!
As dit nie vir hierdie 'ride report' van jou was nie, sou ons dit dalk laat verbygaan het, so ons lig 'n glasie vir jou!
Gee asb daai TransAlp se oor 'n draai namens ons ook!
Groete,
Smiley
Groot plesier Smiley!
ReplyDelete